Tuesday, May 19, 2020

Dag 3. Identiteit bepaal jou gedrag.

   Jesus Christus is nou my nuwe punt van verwysing. Christus is nou die definisie van my ware identiteit. Die Bybel sê vir jou wie jy reeds is. 

   Hierdie nuwe identiteit is die fondasie van jou ware menswees. As jy anders dink oor wie jy is, gaan jy anders dink oor hoe jy leef. Met dít as verwysing kom God nou en sê ons is nou in Christus. Dis vanuit hierdie dimensie van lewe wat God noem, Sy rus.

   Identiteit bepaal jou gedrag.

1.      Hierdie beginsel word so duidelik vir ons uitgespel in die benadering van die twaalf verspieders van Israel.

2.      Hulle moes die land Kanaän gaan verspied en ‘n verslag terugbring oor hoe Israel hierdie beloofde grondgebied in ontvangs gaan neem.

3.      God het hulle klaar die beloofde land gegee. Beloftes is vas en kan nooit verander word nie! Dis ‘n Bo-die-Lyn realiteit.

4.      Dit is bestem dat dit hulle erfporsie is en nou moes hulle met groot vrymoedigheid en geloof in daardie beloofde land ingaan en dit in besit neem.

5.      Maar oppad soontoe word hulle geintimideer deur die realiteite, die werklikhede, die teëspraak van die manne, dat dit so ‘n effek op hulle het dat hulle nie in die rus, in die beloofde land kan ingaan nie.

   Weet jy dat daar altyd realiteite sal wees wat vir jou soos reuse sal lyk, jou sal intimideer en jou laat twyfel aan waartoe jy werklik in staat is. Onthou die beloofde land is nie vir eendag in die verte nie. Dis ‘n plek van rus in die Here waar jy weet dat jy weet God het reeds voorsien. Vir jou is dit ‘n Onder-die-Lyn belofte – vir God is dit ‘n Bo-die-Lyn afgehandelde werk. Rus vind jy wanneer jy gehoorsaam is, en geloof het in dít wat God reeds Bo-die-Lyn klaar gedoen het, vir altyd en altyd. Onthou jou Nagmaal. More gaan ek vir julle ‘n getuenis stuur van iemand wat hierdie beginsel persoonlik ervaar het. Dit kan ook jou lewe verander.


Dag 2. Dit is volbring – Kom ons gaan die rus in

   Kom ons kyk vandag in kort wat het die evangelie vir ons gedoen. Die begrip ‘evangelie’ beteken ‘die goeie nuus’. Nuus is iets wat klaar gebeur het!

1.      Ons hoef nie meer sekere goed te doen om te kwalifiseer vir die guns van God nie. Ons het ontdek dat Hy het ons volmaak gemaak. Ons kwalifiseer reeds vir Sy guns en Hy glimlag oor ons lewens.

2.      Daar is nie meer ‘n beloning vir ons toewyding nie. Ons leef reeds met die ewige lewe binne in ons!

3.      Ons is klaar met die ‘snakes and ladders’ speletjie. Ons is klaar gesukkel om deur die hindernisse te kom. Ons is saam met Hom by die ‘finish’ punt.

4.      Ons het ontdek dat die hemel is meer as ‘window shopping’. Ons hoef nie net te kyk met die hoop, eendag sal ek ook deel hê aan dit wat ek hoop nie. Ek het reeds van hoop na geloof beweeg – dis nou myne, dis nou ‘n realiteit.

5.      Ons leer dat elke belofte wat Hy oor my kom maak het is ja en amen. Deur die geloof maak ek dit nou myne. Onthou dat ons gesê het dat die koningkryk is só ontwerp dat dit met geloof werk.

6.      Ons het ontdek dat die evangelie baie meer bied as ‘n poging om net te kwalifiseer vir die hemel.

7.      Daar is egter baie meer aan die evangelie, want die goeie nuus is dat ons nou reeds ten spyte van die beperking van die vlees en die gebrokenheid van die wêreld om ons, deel kan hê aan die heerlikheid van God (Bo-die-Lyn). Alles wat ek in Christus waardeer, het Hy in my kom reproduseer.

8.      Die skrif waarna ons gekyk het om die goeie nuus te verduidelik, was Romeine 5:17:

  Want as ten gevolge van die misdaad van die één die dood geheers het deur die één, veel meer sal hulle wat die oorvloed van die genade en van die gawe van die geregtigheid ontvang, in die lewe heers deur die Één, Jesus Christus.”

  ‘Veel meer’ in díe verband beteken verséker veel meer! Na Adam se val en met hom die hele mensdom saam met hom, het die laaste Adam, Jesus, ‘veel meer’ lewe en oorvloed kom gee.

  Dis nou nodig om te verstaan dat al die bogenoemde ‘voordele’ reeds vir my en jou afgehandel is! Dit gaan uiteindelik vir my en jou in Sy rus inneem!

  Moenie jou nagmaal vergeet nie.


Dag 1. Dis nóú die tyd om God se geloof in jou te gebruik


  Op die huidige oomblik is daar nog 12 dae oor op die Inperkingsbevel vir die hele Suid Afrika. Die vraag wat ek aan myself gevra het is wat het die afgelope 23 dae in my eie lewe en omstandighede verander. Was dit vir my ‘n tyd van rus in die Here of ‘n tyd van bekommernis oor die dag van more – nie net oor ons eie situasie nie maar ook oor hulle met wie ons in verhouding staan. Die Here bemoedig ons egter in Matt 6:31,32 “Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie? …want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het”. Wat is die geheim dan? Onthou in Les 6 het ons geleer: “We look away from the natural realm and we fasten our gaze onto Jesus who birthed faith within us and who leads us forward into faith’s perfection (Heb 12:2) (The Passion Translation.) 

  Dis nóú die tyd om God se geloof in jou te gebruik. Jy hoef nie te vas en bid vir iets wat reeds aan jou toegesê is nie. Ek moet dit met daardie geloof ontvang. Byvoorbeeld: Hy het ons die geregtigheid van God in Christus gemaak. Ek ís nou die geregtigheid van God. Niks en niemand kan dit in jou lewe verander nie. Aanvaar dit met die geloof wat in jou is en begin God daarvoor dank. Jy ís God se geregtigheid, of jy nou so voel of nie. Rus daarin. Die werk is gedoen!

  Ons sal jou elke dag, stap vir stap neem totdat jy die dinge bo die Lyn joune gaan maak en daarin jou rus vind.

  Moenie jou nagmaal vergeet nie.


Lock-Down Word Verleng

  Met die "Lock-Down"  wat met 14 dae verleng is, bly daar 12 dae oor om 12 “dagstukkies” met jou te deel. Ek wil graag met jou deel oor die volgende onderwerp: “Hoe om in die rus van die Here in te gaan.” Ons wil dit sommer vir jou in klein stukkies elke dag opbreek. Vandag is slegs ‘n inleading. More DV begin ons om jou te vertel wat God reeds namens jou betaal het. As jy hierdie dinge glo en dit joune maak sal jy jouself in die rus van die Here bevind!

 



Les 17: Hoe raak ek en jy vry van die Wet

Romeine 7: As God se Wet ewig is, is dit dan nie bindend oor my lewe nie? Hoe kan ek vry kom van die wetlike eise wat dit oor my lewe het?

1.  In Romeine 7 praat Paulus met die Jode wat ónder die Wet leef.

2.  Hulle het nou ‘n probleem: Van hulle het nou Christus aangeneem maar sukkel met die rol van die Wet in hulle daaglikse lewe. Dis verstaanbaar want die Wet het elke aspek van hulle lewe beheer.

3.  Op ‘n meesterlike wyse verduidelik Paulus aan hulle hoe Christus hulle wetlik losgemaak het van die ‘Wet van die sonde en die dood’ en ook watter houvas die Wet op hulle gehad het.

4.  Paulus verduidelik dit by wyse van ‘n voorbeeld. Hy begin om die persoon wat nog onder die Wet lewe te vergelyk met ‘n vrou en haar man wat getroud is. Hierdeur is sy aan haar man gebind solank as wat albei nog lewe. Indien die vrou van haar man wil skei moet die man eers sterwe. Die man in hierdie geval verteenwoordig die Wet.

5.  Jesus het na die aarde gekom en die Wet onderhou. Sodoende het Hy al die wetlike vereistes vervul. Met ander woorde, Jesus was met die Wet getroud. Die enigste manier waarop Jesus kon vry kom van die Wet is dat één moes sterwe – Jesus of die Wet.

6.  Jesus het gesterwe en só was Hy vry van die Wet. Hoekom moes Jesús sterwe? As Jesus dan nou vry is van die Wet, hoe kom ek nou vry daarvan?

7.  Met verwysing na die gedeelte van die huwelik soos hierbo verduidelik beklemtoon Paulus die feit dat niemand kan tergelykertyd getroud wees met Christus en die Wet nie.

8.  Omdat die Wet ewig is, is die enigste weg vir my om vry te kom van die Wet, ek moet ook sterwe. Ek moet saam met Jesus sterwe. Dan is ek ook vry van die wetlike aanspraak wat die Wet oor my lewe het.

9.  Omdat ek in Christus is, is ek vry van die Wet! Moenie vir jouself wette maak wat jy voor jou siel weet jy kan nie hou nie.

Moenie jou nagmaal vergeet nie!


Les 16: Wie definieer jou?

Gister het ons hiermee gesluit.

Heb 1:1 “In die verlede het God baiekeer en op baie maniere tot ons voorvaders gespreek deur die profete, maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy tot ons gespreek deur die Seun.”

Jy sien God het ‘n nuwe gesprek oopgemaak. Ons durf nie iemand toelaat om ‘n ander gesprek oop te maak as die een wat God oopgemaak het oor ons lewens nie. Alleen God gee definiesie aan wie ons in Christus is.

In die Ou Testament is daar wondelike verhale van Moses, van Dawid, van Josef en al die wonderlike Godsmanne en vroue. Maar die skrywer van die Hebreërs kom en sê wees versigtig dat jy nie definiesie vir jou lewe vind in húlle lewe nie. Jy kan alleen Moses verstaan, jy kan alleen Dawid verstaan, jy kan alleen Josef verstaan as iemand wat betrekking het tot jou lewe, wanneer jy verstaan wat God reeds vir jou kom sê het in Christus.

Daar is geen ander uitspraak oor my lewe, as wat God kom sê het in Christus nie. Daar is geen profetiese uitspraak oor my lewe as wat God kom sê het in Christus nie. Mense kan alleen in my lewe inpraat wat God reeds gepraat het.

Daarom is dit krities wat God vir jou kom sê het in Christus. Sodat jy nie verward raak wanneer iemand wat diep geestelik is oor jou kom profeteer nie. Jy het nodig om te ontdek wat sê God vir jou in Christus. Dis die basis, dis die vertrekpunt van wat ek glo oor my eie lewe. Maak wérk daarvan, om van God te hoor oor jou eie lewe.


Les 15: Weet jy wat God se opinie oor jou is.

Voordat jy hierdie lering begin lees. Neem 5 minute van jou ty den skryf 10 punte neer van wat jy dink God se opinie oor jou is.

Weet dat God iets te sê het oor jou lewe. Jy sien God het ‘n uitspraak kom maak oor ons lewens. “As ons dink aan wat God vir ons gedoen het, wat kan die mens dan nog sê? God het ons aan Sy kant gesit, en wie sal ons kan oorwin? Rom 8:31 (Die Lewende Bybel) Mense kannie net links en regs hulle opinie oor jou lewe gee nie. Paulus vra die vraag:

Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak. “Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.” Rom 8:33-34

Geen mens het vir jou kom sterwe nie! Mense het nie die reg om te weerspreek wat God oor jou lewe gespreek het nie. God sien net die beste in jou, Sy beeld met Sy heerlikheid – Hy het jou verhoog en jy sit in Hemelse plekke saam met Hom.

Dis ‘n sleutel tot die verstaan van die Nuwe Testament en dat jy sal ontdek wie jy in Christus is. Jesus Christus was God se uitspraak oor ons lewens. Hy ís die finale woord.

Heb 1:1 “In die verlede het God baiekeer en op baie maniere tot ons voorvaders gespreek deur die profete, maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy tot ons gespreek deur die Seun.”