Tuesday, May 19, 2020

Dag 10. God het gerus van Sy werke


  As die Bybel sê God het gerus van Sy werke is dit ‘n heeltemal ander verwysing. Hebreërs gee vir ons hier die sleutel. Want hy sê: Ons kan ingaan in die rus soos wat God van Sy werke rus. Ek glo die sleutel lê in Hebreërs 4:12 Gewoonlik word hierdie skrif in isolasie gelees. Maar dit was geskrywe in die konteks van ‘entering God’s rest.’ “Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard,” … Hoe het God gerus. Jy sien God skep met Sy Woord. God het Sy Woord gestuur om te doen waarvoor Hy dit gestuur het. Toe God Sy rus ingaan, het God teruggestaan in die volle vertroue dat Sy Woord gedoen het waartoe Hy dit gestuur het.
  Nou sê die Skrif ons kan ook rus soos God gerus het. Ons gaan die rus in. Hoe? Ons rus nou in dít wat God reeds gedoen en afgehandel het in die onsigbare realm, die ewige realm, die I AM realm. Daarom moet ons verstaan dat Sy Woord het skeiding gebring tussen siel en gees. Siel is onder die Lyn en gees is Bo-die-Lyn. Die punt is dit: Ons kan nie God se rus ingaan solank ons op die sielsvlak verskynsels en gevoelens leef nie. (Gaan terug na jou Bo- en Onder-die-Lyn skets in ons eerste dagstukkie en sien waar pas verskynsels en gevoelens in)
  Gal 5:25 “As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel.” So, hoe kan ons ywerig wees om God se rus in te gaan. Hou op om te probeer. Christus is in jou! Maar jy is ook in Christus. Ín jou, leef Hy in jou omgewing – Onder-die-Lyn realm; Maar jy is ook in Hom, nou kan jy in Sy omgewing leef – in die onsigbare, Bo-die-Lyn realm. Efes 2:6 “en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus.”
Hy nooi jou om te rus soos Hy rus. Dis díe volkome rus wat vir jou en my oorbly. Ons moet God se uitspraak oor ons lewens vertrou. 

Onthou jou Nagmaal.


Dag 9. Bly beweeg in die rus van die Here in.

  Heb 4:8-12 “Want as Joshua aan hulle rus gegee het, sou Hy nie van ‘n ander dag daarná spreek nie. Daar bly dus ‘n sabbatsrus oor vir die volk van God; want wie in sy rus ingegaan het, rus ook self van sy werke soos God van syne.” (Luister mooi - want wie in sy rus ingegaan het, rus ook self van sy werke soos God van syne) Laat ons ons dan beywer om in te gaan in dié rus, sodat niemand in dieselfde voorbeeld van ongehoorsaamheid mag val nie. Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.”

  Ons kan rus soos wat God rus. Die vraag is: Hoe rus God? Die konsep van rus verwys terug na dit wat in Genesis by die skeppingsverhaal gebeur het. Die skrif sê: God het alles geskep in 6 dae of dispensasies – álles – ook die man en die vrou. Op die sewende dag het God gerus. (Gen 2:3). Maar dit was verseker nie omdat Hy moeg was van die vorige ses dae se harde werk nie. God kan nie moeg word nie – Hy is die bron van ewige energie! “Weet jy dit nie? Of het jy dit nie gehoor nie? ‘n Ewige God is die HERE, Skepper van die eindes van die aarde; Hy word nie moeg of mat nie; daar is geen deurgronding van sy verstand nie.”- (“You cannot learn all he knows.”) Jes 40:28. Easy Read Version. God het gerus want Sy werk was klaar.

  Hierdie rus is nie dieselfde rus waaraan ons gewoond is wanneer ons baie hard gewerk het nie. Wanneer die Woord in Hebreers 4:3 praat van Sy rus ingaan, beteken hierdie woord letterlik: “Ek het ingekom in sy rus in maar ek moet aanhou om te beweeg (it expresses motion, movement.) Soos wanneer ek ‘n sirkel trek met ‘n middelpunt. Ek het in die sirkel ingekom maar ek bly beweeg na die middelpunt toe. Die middelpunt is die volkome rus van die Here! Moenie jou Nagmaal vergeet nie.

 


Dag 8. Soos die volk in die woestyn die Evangelie moes glo, so moet ons dit vandag ook glo!

Ek herhaal net weer:

  “Maar my kneg Kaleb, omdat ‘n ander gees in hom was en hy volhard het om My te volg—hom sal Ek bring in die land waarin hy gekom het, en sy geslag sal dit in besit neem.” Num 14:24 

  Die Hebreërs skrywer haal bogenoemde verwysing aan. Let op wat sê hy hierop. Hy maak dit van toepassing binne die konteks van die Nuwe Testament, binne hierdie erfenis, binne hierdie verstaan van die volheid van God wat reeds ons deel is. En dan sê hy die volgende: Heb 4:2 “Want aan ons is die evangelie ook verkondig (die goeie nuus) net soos aan hulle;” (daar was vir hulle ‘n beloofde land; dít was die goeie nuus. Vir óns beteken dit die volheidslewe in Christus; dít is vir ons die goeie nuus.). Hy sê “maar die woord van die prediking het hulle nie gebaat nie, omdat dit by die hoorders nie met die geloof verenig was nie.

  Heb 4:3  “Want ons wat geglo het, gaan die rus in,” (nou gaan hy voort om te sê soos God gesê het, want hierdie rus wat vir ons oorbly, as dit die finale rus was wat Josua vir hulle wou gee, sou God nie weer praat van ‘n rus waar ons kon ingaan nie). Die skrif sê dat ons in die rus van God kán ingaan, want daar bly ‘n rus oor vir die volk van God. Soos hulle destyds die Woord van God moes vasgryp en dit moes glo, bly dit steeds die basis van die beleef van die rus. Hoe gaan ons in die rus in? Deur die afgehandelde realiteit van die Woord te ontdek en te glo! Dit het ons reeds gedoen; daarom beteken dit dat ons reeds in Sy rus ingegaan het toe ons saam met Hom gesterwe het en saam met hom opgestaan het. Nou is ons in Christus. Vir baie is dit net nog nie ‘n realiteit nie! Met Sy geloof in ons sal die rus ‘n al hoe meer werklikheid word! Gebruik jou Nagmaal. Dit is Sy Liggaam en Sy Bloed!


Dag 7. In Christus, in Sy rus!


Die Hebreërs skrywer skryf nou, mense julle moet verstaan dat ons is gelowiges. Dis die definisie van ons bestaan. Ons is mense van geloof en geloof wandel nie volgens die sintuie nie. Geloof kyk nie na die realiteite nie maar wandel volgens die uitsprake van God. Wat beteken dit in ons allerdaagse lewe, om te lewe as ‘n gelowige.

Weet jy, God kom nou en Hy eer vir Kaleb, een van die 12 verspieders, omdat hy nie deur die reuse geïntimideer was nie. En nou kom Kaleb in Num 13:30 “Toe het Kaleb die volk stil gemaak teenoor Moses en gesê: Laat ons gerus optrek en dit in besit neem; want ons kan dit sekerlik oorweldig.” Dieselfde situasie, dieselfde omstandighede MAAR ‘n ander ingesteldheid. Maar die volk kies om dit nie te doen nie en hulle betaal die prys.

 Hulle verbeur egter hierdie erfenis vir ‘n hele geslag omdat hulle opinie oor hulself ontsettend negatief was. Hulle het hulself as sprinkane gesien teenoor die inwoners van die beloofde land. As jy jouself kleiner sien as wat God jou sien, beïnvloed dit jou optrede! Die Here kom en gee aan Kaleb ‘n belofte:

“Maar my kneg Kaleb, omdat ‘n ander gees in hom was en hy volhard het om My te volg—hom sal Ek bring in die land waarin hy gekom het, en sy geslag sal dit in besit neem.” Num 14:24

Christus het dit klaar vir ons moontlik gemaak om in Sy rus in te gaan. Toe Hy sterwe het ons saam met Hom gesterwe en ook saam met Hom opgestaan. Ons was in Hom, dus was ons ook in Sy rus. Daarom moet ons dit deur geloof aanneem. As ons sê ons moet Sy rus ingaan beteken dit nie ons moet daarvoor werk nie. Maar ons moet Hom vertrou dat Hy van Sy werke rus en só moet ons ook van ons werke rus! Ons wil hê jy moet die rus ten volle ervaar, daarom wil ons jou oor en oor aanmoedig totdat jy weet dat jy weet Christus het ALLES klaar gedoen. Daarom kan jy rus. Onthou jou Nagmaal.

https://youtu.be/JWiFYJMGas0


Dag 6. Vertoef ‘n bietjie langer by die spieël!

Dag 6. Vertoef ‘n bietjie langer by die spieël!

  Lees asseblief weer die laaste gedeelte van Dag 5 se dagstukkie wat begin met “Die probleem is,…”

  “Jakobus sê: Want as iemand ‘n hoorder van die woord is en nie ‘n dader nie, dié is soos ‘n man wat sy natuurlike gesig in ‘n spieël sien; want hy sien homself en gaan weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het. Maar hy wat diep insien in die volmaakte wet van die vryheid en daarby bly, hy sal, omdat hy nie ‘n vergeetagtige hoorder is nie, maar ‘n dader van die woord, gelukkig wees in wat hy doen.” Jak 1:23 – 25.

  Nou wil ek vir jou in eenvoudige Afrikaans vertel wat Jakobus vir ons sê: Hier kry ons die verskil tussen ‘n toeskouer en ‘n deelnemer. Beide kyk in ‘n spieël. Altwee besef hulle kyk na hulle eie gesig, maar die eerste persoon dink dis te goed om waar te wees. Hy draai om en gaan terug na die wyse van hoe hy oor homself gevoel het. Hy vergeet onmiddelik wat hy in die spieël gesien het. Die tweede persoon is gevange geneem in wat hy in die spieël sien; hy dink aan  die effek wat die wet van die vryheid op sy lewe het. (díe wet wat hom vrygemaak het van die ‘doen’ om deur sy eie wilskrag iets te probeer wees). As dader van die Woord sal hy gelukkig wees in alles wat hy doen.

  Ons roeping is om “diep in te sien in die volmaakte wet van die vryheid en daarby te bly.”  Sodat dit kan verander hoe ons oor onsself dink en hoe God oor ons dink, en hoe ons die beloofde land, die rus van die Here en die volheid van God in besit kan neem. Die vraag is steeds, kan jy jou as volmaak in Christus sien? Kyk hoe het hulle hulself gesien en oor hulself gepraat: “Ons kan nie teen die volk optrek nie, want hulle is sterker as ons.” Jy sien, hoe jy na jouself kyk bepaal wat jy antisipeer. Jy sien, ons sal anders moet begin dink. Die Hebreërs skrywer sê: “En aan wie het Hy gesweer dat hulle in Sy rus nie sal ingaan nie, behalwe aan die ongehoorsames? En ons sien dat hulle deur ongeloof nie kon ingaan nie.” Heb 3:18-19. Ek wil herhaal! Ons sal God se uitsprake oor ons lewe moet vertrou! Onthou jou Nagmaal.


Dag 5. Wat maak dit dat ons omdraai nog voordat ons in die rus kon ingaan?

   Onthou jy nog Dag 3 se dagstukkie. Oppad soontoe word die verspieders geintimideer deur die realiteite, die werklikhede, die teëspraak van die manne, dat dit só ‘n effek op hulle het dat hulle nie in die rus, in die beloofde land kan ingaan nie.

   Die storie lui so:

   Num 13:31-33 “Maar die manne wat saam met hom opgetrek het, het gesê: Ons kan nie teen die volk optrek nie, want hulle is sterker as ons. So het hulle dan slegte gerugte onder die kinders van Israel versprei oor die land wat hulle verken het, deur te sê: Die land wat ons deurgetrek het om dit te verken, is ‘n land wat sy inwoners verteer; en al die mense wat ons daarin gesien het, is groot manne. Ons het daar ook die reuse gesien, die kinders van Enak, van die reuse afkomstig; en ons was soos sprinkane in ons oë; so was ons ook in hulle  oë.” Dit is só tipies hoe baie kinders van God hullesef steeds sien – MINDERWAARDIG.

   Dit hou die miljoene gelowiges steeds weg van die volheid van die ‘beloofde land’. Die Hebreër skrywer verwys daarna as die ‘rus van God.’ Die beloofde land was vir Israel ‘n plek van oorvloed en van rus en dit was ‘n skadubeeld van die realiteit van die lewe in Christus in die Nuwe Testament. Die nuwe lewe in Christus is ‘n lewe van oorvloed en rus vir élke gelowige. Ons moet egter nie in dieselfde ongehoorsaamheid en ongeloof lewe en só uitmis wat God reeds vir ons kom doen het nie.

   Die probleem is, wat dink ons dink húlle van ons. Het dit ‘n effek op jou lewe wat ander mense van jou sê en dink? God kom en maak hierdie geweldige uitsprake oor ons lewens, dan draai ons om en ons stap weg en Jakobus sê dan vergeet ons hoe ons gelyk het. Die Jakobus uitdaging vir ons is om diep in te sien in die volmaakte wet van vryspraak, sodat ons kan vashou aan hierdie oortuiging en orïentasie van wie ons eintlik werklik is. Ons gedagtes oor onsself word dikwels gevorm deur wat mense van ons sê of dink! In God se oë is jy ‘n kampioen en Hy sit ‘n 10 uit 10 op jou kop. Ongeag wat jy van jouself dink!  Van Onthou jou Nagmaal.

Dag 4. God het vir jou reeds alles inbetaal

Mariana Kleyn is my suster en sy woon, Gauteng. Sy en haar oorlede man Tienie het jare terug hulle eie besigheid begin. Hy was ‘n assessor wat eise namens verskeie versekeringsmaatskappye ondersoek het. Hulle het die besigheid opgebou tot 'n belowende kleinbesigheid.  Nadat Tienie in 2014 oorlede is, het Mariana en haar seun, Morné (ook 'n assessor) aangegaan met die besigheid.  Morné het groot skoene gehad om vol te staan, maar hy het hom goed van sy saak gekwyt. Ongelukkig het daar in 2015 groot veranderings in díe versekeringsmaatskappy gekom. Dit was die gevolg van sisteem veranderings.  Hierdie maatskappy was dan ook hulle grootste klieënt op daardie stadium. Hierdie veranderings het meegebring dat hulle meeste van hulle werk verloor het. In die jare wat volg het hulle baie teëspoed beleef en dit was soms baie moeilik om die pot aan die kook te hou. 

Omdat Mariana gereeld vir ons kom kuier het en ons haar gereeld besoek het, het ons die geleentheid gehad om gereeld met haar te praat oor dit wat die Here met my en Alta in ons lewens deel. Net voor die inperking het ek een oggend met haar gepraat en haar vertel waarmee die Here nou met my en Alta besig is. Daardie aand het sy my in trane teruggebel. Dit was 'n uitgeroep om hulp, dié keer geestelike hulp!  Ek het met haar begin praat oor die lewe Bo-die-Lyn en die lewe Onder-die-Lyn. Ek het vir haar verduidelik dat Bo-die-Lyn is die geestelike of I AM realm, die dinge wat nie kan verander nie, die dinge waarvoor God klaar Sy lewe gegee het. Onder-die-Lyn is die dinge wat geskep is, die dinge wat elke dag verander.

Sy het ingestem dat ek my dagstukkies elke dag aan haar kan deurstuur. Ons praat op ‘n daaglikse basis met mekaar en dan deel ons die Woord oor en weer. Dit het my onmiddelik opgeval dat Mariana ‘n nuwe ‘taal’ begin praat. Sy het onmiddelik begin soek na ‘n Bo-die-Lyn lewe!

Met die inperking kon hulle nou al vir ‘n maand nie uitgaan om eise te doen nie. Geen eise beteken dat geen geld inkom nie. Sy begin toe om deur haar besigheid se boeke te werk en kom met 'n skok agter dat daar heelwat van hulle fakture (vir eise wat reeds afgehandel was) nog uitstaande was - sommiges het sover as November 2019 terug dateer.  Sy het dadelik werk daarvan gemaak en dit begin opvolg met die betrokke maatskappye.  Nadat ondersoek ingestel is, is daar gevind dat die uitstaande fakture op 'n onverklaarbare wyse geliaseer was voordat betalings aangevra is. Gister is daar toe ‘n aansienlike bedrag in hulle rekening inbetaal!!

Wat is die les wat Mariana geleer het. Die bedrag geld wat klaar vir hulle gereserveer was het in ‘n bankrekening gelê en wag dat dit aan hulle uitbetaal moes word. Vir bykans 5 maande was dit afgehandel. Dit was wettiglik hulle besigheid se geld. Ons kan sê hier het ons te doen met Bo-die-Lyn realiteite. Nou kom die verrassing – Mariana kon bid en glo dat as daar uitstaande bedrae is, God in daardie mense se harte kon werk om die geld oor te betaal. Daar is nie baie dáármee verkeerd nie, maar die Woord sê, geloof sonder die werke is dood. Mariana het die geloof wat in haar is gebruik om die maatskappye te identifiseer wat miskien nog nie ‘n betaling gemaak het nie. Dis ‘n Onder-die-Lyn aksie. God het haar geloof geëer.

Weet jy God het vir jou reeds alles inbetaal wat jy in jou lewe nodig sal hê. Hy het Sy lewe daarvoor gegee. Al wat God in ruil wil hê is dat jy Hom onvoorwaardelik sal glo, en gehoorsaam sal wees om te doen wat jou hand vind om te doen. Miskien is jou behoefte vandag nie geld nie, maar enige iets anders waarvoor Jesus Sy lewe gegee het! Moenie jou nagmaal vandag vergeet nie!Moenie jou nagmaal vandag vergeet nie!